oor paspoorte, rugsakke en 108 dae in suid-oos asië

'n joernaal oor ons reis deur thailand, laos, cambodja en nepal

Oppad terug!

11/10 -  Iewers tussen Bangkok en die Kaap:

Ons vlug was eers vir 20:00 die aand, so dit het ons heelwat tyd gegee die oggend vir laaste draaie.  Janine het vir ‘n pedicure gegaan.

Ons laaste bietjie drama was oppad lughawe toe.  Teen die tyd het ons Bangkok se publieke vervoer stelsel redelik onder die knie gehad, maar dit het ons nogal bekommerd gehad toe die bus net nie wou opdaag nie.  En aangesien ons met redelike groot en swaar sakke getravel het, was ons beweeglikheid redelik ingeperk.  Toe die bus na 2 ure uiteindelik opdaag kon ons weer asem haal en is ons oppad.

Lughawe is maar lughawe en vlieg maar vlieg.  Qatar airways is nogal luuks, so dit was heel lekker gewees.

Die probleem was net die 7:40 min oorstaan in Doha.  ‘n Vreeslike groot lughawe, maar so ongemaklik.  As ons 20min vroeër geland het, sou hul ons ingeboek het in ‘n hotel vir die aand daar, maar die nuwe beleid is 8uur of langer oorstaan vir hotel akkomodasie.

Heerlik was dit om in Kaapstad aan te kom en die familie en vriende daar te sien wat ons ingewag het.

Wat ‘n wonderlike lewens ervaring. Ons sal dit vir enige iemand aanbeveel wat so iets kan doen.  Dis verseker die tyd en geld werd.

Bankok

09 & 10/10:  Bangkok

Ons het besluit ons moet ons darem nog so 2 dae in Bangkok geen voor ons huiswaards keer.  Nog so paar goedjies om te koop (wat nogal tyd kan vat) en lekker Thai kos om te eet.

Die 2 dae lewer egter nie eintlik iets opwindends op nie, maar ons het darem genoeg tyd om al die lekker goedjies ‘n laaste keer te doen.

Koh Chang

30/09:  Koh Chang

Ons het nog so 10 dae oor voor ons huiswaards keer en wou dit net iewers rustigs gaan deurbring.  Dit was ‘n groot wik en weeg tussen Koh Toa (waar ons reeds was) en Koh Chang.  Op die end besluit ons op ‘n nuwe eiland en vertrek die oggend Koh Chang toe.  Aangekom op die eiland is ons maar redelik onseker oor waar om te bly, boek ons ons in ‘n redelik luukse resort, Siam Beach Resort.  Die “perk” is dat dit ontbyt ingesluit het, so jul kan jul net voorstel hoe ons weggelê het…

Die aand begin dit ongelukkig reën, en nie hoe nie!  Ons besluit om die 10 dae om die eiland rond te gaan bly en al die wegsteek strande en oordjies te gaan uitsnuffel.

01/10 – 08/10:  Koh Chang

Na ons 1st aand besluit ons om na ‘n volgende oord aan te skuif.  Dis net so aan die ander kant vd strand, Lonely Beach.

Ons bly vir 2 aande daar.  Die bungalow’s sit reg op die strand, soveel so dat as jy by jou deur uitgaan strap jy so te sê in die water.  Heerlik.

Van daar is ons na die “New” Tree House op Long Beach.  Dis nogal ‘n redelike trip om tot daar te kom, aan die einde vd eiland, maar absoluut die moeite werd.  Daar is net 2 lodges op die strand wat sekerlik nie meer as 40% vol was nie, wat ‘n rustige plek, beter as ons wildste verwagtinge.  Verder is die krag is net van 18:00 tot 22:00 aan, so geen musiek om jou wakker te hou nie, net die branders wat op die strand voor die hut uitspoel.  Ons besluit toe om sommer 5 dae hier te bly en nie verder ediliese strandjies te gaan soek nie.

Van daar is ons weer vir ‘n aand terug na Siam Beach Resort toe vir 1 aand.  Omdat daar geen telefone op die einde vd eiland is nie en ons ons terug kaartjies moes bevestig, moes ons teruggaan na die beskawing vir nog 1 aand.

Volgende oggend is ons in gittende reën per taxi na die ferry boot om ons terug te neem vasteland toe om van daar per bus terug te gaan Bangkok toe.  Die hele 45 min met die taxi was weereens in gittende reën, soveel so dat ons sop water nat was teen die tyd wat ons by die ferry aangekom het.  Gelukkig is die reën hier ook warm, so dit is darem nie erger as lou stort nie.

Ons vakansie staan nou vinnig einde se kant toe.

Bangkok

28/09:  Bangkok

Wat ‘n fees om terug te wees in Bankok!  Dit voel omtrent soos ‘n 1ste wêreldse land na Nepal.

Aangesien ons die publieke vervoer sisteem teen die tyd goed onder die knie het is ons op die local bus Khoi San Road toe.  Ons kom maar redelik laat daar aan, maar ons het reeds ‘n kamer geboek in dieselfde hotel as voorheen, so daar is geen gerondsoek na blyplek nie.  Na ‘n stortjie is ons die strate in vir lekker Khoi San Road straat kos!!  Absoluut heerlik!

29/09:  Bangkok

Die oggend is ons vroegerig uit die vere:  heelwat om te doen!  Nicol het ‘n kamera bestel en ons wou ons’n ingee vir ‘n diens.  Ongelukkig kan dit nie in 2 weke gebeur nie, so dit wag nou maar vir SA.

Van daar is ons na die berugte MBK… vir tailor made jeans en ‘n paar ander goedjies.

Terug in Kathmando

26/09:  Kathmando

Die oggend was bietjie rustiger en na ontbyt val ons in die pad.  Die keer is dit ‘n heel nuwe bus wat die gemaklikste tot nog is.  Net jammer vir die bed luise wat vir Janine gechau het…  Die rit was maar weer lank, maar met die bus wat beter was en ook die pad was dit heel luuks.  (Om jul ‘n idee te gee:  Pokhara is 200km van Kathmando, maar dit neem 7 uur per bus!!!)

Aangekom is Kathmando is ons geskok met hoe baie toeruste in die strate rondhang.  Toe ons ‘n maand gelede daar was was dit net ons twee en ‘n paar ander.  Ons was nogal besonder gelukkig om dieselfde kamer te kry as voorheen en teen ‘n heelwat beter prys!  Bargain is die wagwoord in die land.

Na aandete is ons die winkel in, maar ons was maar moeg so is toe maar terug hotel toe.

27/09:  Kathmando

Shopping, shopping, shopping!

Aangesien ons die volgende oggend vlieg, moes ons alles vandag doen.  Ook moes ons vandag afskeid neem vd pelle en so kom ‘n baie sosiale maand tot ‘n einde.  Wie sou kon raai dat Nepal een groot kuier sou uitdraai.

Chitwan Natuur Reservaat

24 – 26/09:  Chitwan Natuur Reservaat

Die volgende oggend na ons terug is vd rafting is ons weer oppad.  Die keer suid-oos na die baie bekende en gewilde Chitwan Natuur Reservaat.  Dis egter weer ‘n 6 uur busrit, en ons reg agter in die agterkant vd bus vir die beste effek van die pot-holes.

Aangekom in Sauhara (?) word ons opgetel deur die lodge waar ons bly.  Dis egter vrek warm en bedompig hier.  Na ‘n stort en ‘n middag slapie kon ons dit darem buite waag.  Aangesien ons hier is op ‘n pakket het ons ‘n skedule gehad om te volg.  Die namiddag is ons dus na een vd plaaslike tradisionele village.  Ons was maar skepties agv slegte vorige ervarings, maar die ene was werklik ‘n goeie ervaring.  Hier is selfs bio-gas aanlegte vir huishoudelike gebruik, elke huisie met sy eie aanleg.  Van daar is ons na die olifant teel sentrum.  Weereens is ons aangenaam verras.  Hier kry ons tweeling olifantjies van 10 maande oud.  As ons die ou reg verstaan het is dit slegs die 4de paar onder oosterse olifante.  Hul is egter maar klein vir hul ouderdom, so lekker speelbaar.  Ons het koekies gehad en hul nuuskierige slurpies het dit oral uitgesniffel.  Tog te cute!!

Die volgende oggend is ons nogal vroeg uit die vere vir ons “game walk”.  Die 1ste uur is met kanoo’s die rivier af.  En daar sien ons sowaar ‘n krokodil.  Ons het nie gedink Asië het krokodille nie, maar toe nie.  Die “game walk” lewer egter geen wild op nie, net bloed-suiers.  Dis egter heerlik om so deur die bos te loop.

Terug by die lodge is dit net mooi tyd vir die olifant bad-tyd.  die oli het ons op die lodge se stoep kom haal vir die endjie rivier toe en sy bad.  Dit is nogal groot sports; ons is op sy rug gewees terwyl hy omval in die water.  Dan tel hy jou met sy slurp op en nat spuit is ook aksie.

Na middagete en ‘n middagslapie is ons oppad op ons olifant safari.  4 per olifant (+ ‘n drywer) is maar ‘n tight fit, maar doenbaar.  By die wildtuin se hek aangekom is daar seker nog ‘n goeie 40 olifant met 4 mense op wat deel vorm van ons safari.  Jul het geen idee hoeveel geraas 200 mense maak nie en ons het nie verwag om enige iets te sien nie, maar tog nie.  Ons sien sowaar 3 renosters!!  Die goed is maar erg mak, want hul word aangekeer met die olifante, so daar is nie rerig weghol kans nie en hul laat dit toe.  Ons sien darem ander bokke ook en mooi voëls.

Die aand is daar “local dances”, maar dis ‘n vroeë aand vir ons.  Volgende more is dit terug Kathmando toe.

White Water Rafting!!

21 – 23 Okt:  Kali Gandaki Rafting

Ons is vir ‘n 3 daagse white water rafting trip op die Kali Gandaki rivier.  Een vd groter en bekender riviere in Nepal.

Ons vertrek die oggend saammet 44 Isrealies.  So dis ons 2 en die ander 2 SA vriende saammet die sweterjoel Isrealies.  Gelukkig was dit nie ‘n probleem nie, aangesien ons reeds ‘n hele klomp ken en mee bevriend geraak het.

Die begin punt is 2.5 ure te bus van Pokhara.  Sekerlik nie 100km ver nie, maar die paaie hier is om van te kreun.  Na al die bote opgeblaas is, is dit ‘n verrassende lekker middagete en toe vertrek ons.

Die rivier is darem nie so erg nie, al bemark hul dit as graad 3+ en 4+.  Die grootste bekommernis was egter die koue water, alles afloop vd sneeu berge.  Die 1ste dag verloop sonder enige probleme en na ‘n paar lekker groot branders kom ons by die kamp aan.  Dis op ‘n pragtige strand teen ‘n groot krans.  Daar is eers gespook om kamp op te slaan, oa tente, maar na alles gedoen is kon almal ontspan.  Die reën het egter nie lank gewag en dit was nog nie donker voor nie toe sak die reën uit.  Na nog ‘n heerlike ete, soos sl die etes was, is ons bed toe.  En die tent het nie gelek nie!

Volgende oggend na breakfast is ons weer oppad.  En sommer met die wegspring is ons in ‘n groot, nat rappid wat die laastes van ons wakker skud.  Die dag het darem ‘n redelik klomp groot rappids gehad, net jammer ons gids het ons telkemale rondom die goed probeer stuur.  Ons vermoed dat hy maar redelik onervare is en selfs banger as ons was.  Die opwinding vd dag was toe ons boodjie in 1 vd rappids sy boude sien ons almal ‘n dip vang.  Ons albei het onder die bood beland, maar kon darem gou genoeg onder uitkom.  Ek dink ons grootste bekommernis was ons crocs wat van ons voete af gesluir is.  Gelukkig is dit deur die ander bote opgepik saam met ons skipbreuklinge.  Die aand het ons weer ‘n lekker kamp gehad en almal het die hemel dopgehou vir ‘n reënbui wat gelukkig weggebly het.

Die laaste dag se rafting was ongelukkig net te kort vir almal gewees en toe ons weer sien klim ons uit.  Na middagete is al die bote gelaai en pak ons die lang pad terug Pokhara toe.  Ons het omtrent soos konings op die trippie geëet en nou het ons sekerlik al die gewig opgetel wat ons in die berg verloor het.  Die pad terug was maar lank, alhoewel nie so ver nie.  Maar 5 ure later is ons terug.

Die aand gaan eet ons ‘n laaste steak by Everest Steak House en daarna was dit net die rafting video kyk en ons groet die pelle ‘n laaste keer.

Nog steeds in Pokhara

18/09:  Pokhara

Ons het oorspronklik beplan om vandag op die white water rafting trip te gaan, maar is deur die Isreali pelle omgepraat om te wag tot die 21 September.  Vandag is hul nuwejaarsdag en daar word beplan vir groot feesvieringe!  Daar is spesiaal ‘n markies-tent vir hul opgeslaan om hul aktiwiteite te akkommodeer.  Ons is ook saamgenooi, maar toe daar ‘n hewige donderstorm uitsak besluit ons om dit ‘n skiep te gee.  Die dorp was besonders stil met al die Isrealies in hul tent (omtrent 500!).  Dis sekerlik hoe Pokhara moes wees voor die Nepal deur die Isrealies ontdek is.

Die aand na die tent aktiwiteite kom haal Netali ons egter om saam hul nuwe jaar te kom vier.  Na ‘n heerlike kuier keer ons doodmoeg terug hotel toe.

19/09:  Pokhara

Vandag is maar baie soos gister; rustig, lees en ontspan.  Die dae is ongelukkig snikheed warm, so dis byna ondraaglik om buite te wees.  Teen die namiddag se kant gaan ons ‘n endjie langs die meer stap en word in 1 vd nou verwagde donderstorms gevang.

20/09:  Pokhara

Vanoggend is ons vroeër op om so bietjie vd dag te hê voor die hitte slaan.  Na ontbyt doen ons so bietjie shopping wat oorspronklik beplan was vir Kathmando.  Dis egter ‘n lang en uitputtende job.  Uiteindelik kom ons darem redelik reg.

Die aand 18:00 ontmoet ons met die res vd rafters vir die pre-departure briefing.  Dis maar net die gewone tipe inligtingsessie.  Janine wen darem ‘n lucky-draw aandete!

19:00 ontmoet ons ons stap buddies vir aanete.  Anton, Gal, Steve, Alex, Lyall & Zarha vir ‘n veroulaas kuier voor ons uitmekaar spat.  Dis egter net Steve & Alex wat aanskuif, Maleisië toe.  Die res van ons (behalwe Gal) vertrek almal more op die rafting trip.

Pokhara

15/09:  Jomsom na Pokhara

Ons is op die laaste vlug vd dag (10:30) geboek, so ons kon rustig opstaan en ontbyt eet saam Steve en Alex (wat die aand saam ons in Jomsom geslaap het).  Na alles gepak en gedoen was het Janine bietjie tyd met haar dagboek spandeer en Henco die bokke gaan kyk.  Hy is seker by ‘n goeie 50 troppe verby, almal oppad van Tibet na Pokhara se markte en slagpale.  Volgens inligting wat Janine later raakgeloop het word jaarliks 15 000 bokke vanuit Tibet na Pokhara getrek.  Dit was nogal ‘n gesig om so baie bokke in die hoofstraat van ‘n klein dorpie te sien.

Die vlug was ongelukkig nie naastenby so indrukwekkend soos dit kon gewees het nie.  Al die groot sneeuberge was toe onder wolke.  Die vliegtuig was ‘n klein prop vliegtuigie met net 14 sitplekke en het maar redelik rondgeval in die “luggate”.  Gelukkig was die vlug net 20min, so voor iemand kon siek raak was ons in Pokhara.  Padlangs sou dit 2 dae gevat het met ‘n 4×4!

Aangekom is ons na die afgespreekte gastehuis, Butterfly Lodge; goedkoop, goed gelee en lekker gemaklik.  Die aand is ons uit vir ‘n heerlik goedkoop steak.

16/09:  Pokhara

Vandag was net ‘n rustige dag gewees.  Oppad vir ontbyt kry ons Isrealiese vriende wat ons saam gestap het en hul join ons vir ontbyt op die meer.  Heerlik en rustig.  Ons het nie eintlik enige planne vir die dag nie, so alles verloop teen ‘n lekker rustige pas.

Die aand is ons weer uit met die Isreal pelle vir steaks.  Ongelooflik hoe goedkoop die goed hier is!

17/09:  Pokhara

Vanoggend is ons vroegerig op.  Gal & Anton (Isreal) is saam met scooters om die omgewing te gaan verken.  Eers was dit ‘n gesukkel om rybare scooters te kry en toe weer vir Anton wat eers moes reel om die ding te ry.

Toe is ons uiteindelik die travic in oppad na die 2 baie gesonderse mere 10km die dorp.  Ongelukkig was dit maar so bietjie van ‘n terleurstelling na ons 11 dae in die berg.  Dis seker ‘n moet vir diegene wat nie in die berg gaan kom nie.  Die 10km het ook heelwat meer as 10km gevoel.  Die paaie is maar in ‘n rowwe toestand (die 200km van Pokhara na Kathmando deur 6 tot 7 ure!).

Terug van mere het ons eers vir Janine gaan aflaai voor ons verder is na die Devi’s Falls; ‘n terleurstelling, maar teen 20Rs (R2) was die skade darem nie te groot nie.  Daarna is ons teen ‘n bult op na een of ander vrede’s stupa (tempel).  Die trip daarop was maar rofferig gewees met ‘n baie slegte pad en 2 onervare drywers.  Met so bietjie meer as geluk kon ons dit darem maak en ‘n mooi uitsig geniet.

Die opwindings vure was egter nog nie geblus nie, so ons besluit om na die buurdorpie te rus, Sarangkot.  Oppad is ons eers voorgekeer vir “road tax” wat ons maar betaal het, maar toe iemand ons ‘n “view tax” gevra het, het ons genoeg gehad en omgedraai.  Gal het vir ons ‘n offroad pad terug uitgekyk wat weereens ‘n beproewing was.  Gelukkig het ons dit darem in tyd, voor 19:00 terug gemaak na die verhuurder.  Die laaste 20min in die donker was effens senutergend met nie slegte paaie, hell drywers en heilige beeste oral.  Heellaas was die dag nog nie verby nie en het ons die afgesluit met onderhandelinge / baklei oor die skade vergoedinge wat Anton moes betaal vir die scooter wat hy laat omval het.

Wat ‘n propvol dag!  Volgens Gal die beste nog sover, soveel so dat hy nie wou he die dag moes klaarkry nie.  Ek en Anton wou net by die huiskom vir ‘n stort en ‘n koue koeldrank!

Die Annapurna Trek – Himalayas

Ek gaan die stap dagsgewys deurgee en dit oor die volgende paar dae doen.

Dag 1:  Nadi Bazar (930m)

Vanoggend is ons weer dou-voor-dag busstasie toe vir ‘n bus Beshishar toe.  Lykmy die local het toe nie ‘n storie opgemaak oor die staking nie, want ons sien weer dieselfde gesigte.  Die busrit (mini bus taxi) is ‘n lang uitputtende 6 ure.  Interessant; die pad is een lang afdraende pas!

Aangekom in Beshishar klim ons oor op ‘n 4×4 bus.  Die bus is egter vol en ons beland op die dak met seker nog ‘n goeie 20 ander.  Dis hier op die dak wat ons ons 3 & 4de SAers (Lyall & Zarha) ontmoet.  Oulike couple en op die end stap ons die hele roete saam.  Ons is ook geboek vir dieselfde 3 dag white water rafting trip oor ‘n paar dae.

Iedergeval, die verpligte stap begin eers by Bhulibhuli.  Hier by die in-check kantoor kry ons Isrealies wat ons in Laos ontmoet het, wat ‘n verrassing!  Ons besluit egter om darem so stukkie stap vir die dag in te kry, veral omdat dit lyk of die reen eers verby is en stap tot by Nadi Bazar, so 1.5 uur ver.  Ons mis egter nie heeltemal die reen nie, maar kon darem in ‘n redelike gemaklike “tea house” gastehuis inboek.  Ons leer vinnig van Lyall & Zarha (wat reeds vir 2 maande in Indië backpack) dat alle pryse onderhandelikbaar is.  Alles raak egter duurder soos jy verder gaan, maar die reel is dat akkomodasie verniet is en dat jy afslag op die menu kry.  Dit help ook dat jy so paar is, want dit gee jou meer onderhandeling gewig.

Dag 1 was ‘n heerlik begin.  Die wêreld is pragtig groen en redelik nat.  Dis vir ons ‘n groot verligting om uit die gedruis en gedrang van Kathmando te kom.

Dag 2:  Chamje (1430m)

Dit was ‘n heerlik dag gewees met die pragtigste natuur tonele!  Ons het darem heelwat foties geneem, so ons sal maar later moet wys.  Die dag het ons nogal redelik geklim en baie hoogte gewen.  Ons het egter die dag in ligte reen begin, maar dis net ‘n bietjie erger as drizzel, so ons moan nie.  Dit gee ons darem kans om ons nuwe klere uit te toets.  Na die einde vd dag kom die sonnetjie egter uit en ons stap die laaste end in heerlik sonskyn.  Ongelukkig net nie lank genoeg om die hotel se stort water warm te maak nie.  In die gastehuis die aand ontmoet ons vir Steve en Alex (Britte) wat die res vd trek saam stap.  Ons is nou ‘n lekker gesellige groep saam.

Dag 3:  Danakya (2300m)

Die oggend staan ons op in die reen.  Ons het eers gedink ons sal maar so rukkie wag dat die reen kan opklaar, maar na ‘n halfuur besluit ons om maar aan te skuif, want dit het nie gelyk of dit eintlik gaan ophou nie en ons het mos nou immer nuwe gear gehad om uit te toets.

Die dag het begin met ‘n stewige opdraend van 290m.  Dit was maar ‘n dag van baie opdraendes en styltes.  Ten minste het ons ons aandete verdien en ‘n heerlik sagte bed!

Dit het ongelukkig bykans die hele dag gereen, net die laaste uur is ons gespaar.  Die grootste jammerte van die reen was dat ons onder die masiewe berge gestap het, maar niks daarvan kon sien nie.  Dis seker die kans wat mens vat ons buite seisoen hier te stap.  Bietjie stats vir die wat belangstel:  Die getal stappers in September is 1200 wat opskiet na 4800 in Oktober.  In daai geval trotseer ons eerder so bietjie reen as om oral vas te draai in ander stappers en in ‘n tou te moet wag om ‘n fotie te neem.

Aangekom in Danakya kon ons darem ‘n warmwater emmer kry om ons koue lywe te was!  Lieflik!  Teen die tyd het ons die onderhandelings ding goed onder die knie gehad en kon ons onderhandel vir verniet verblyf en 25% af op die menu.  (Ons het eers vrek sleg hieroor gevoel, maar hul laai hul pryse op die menu so! (‘n eenvoudige aartappel kerrie en rys kos dieselfde as ‘n steak in Pokhara!)

Die slegste vd dag is dat Janine die aand siek begin raak het aan ‘n parasiet (grardiasis) wat sy al in Kathamando moes opgetel het.  Ek het dit ook gekry, maar het eers 2 dae later begin siek raak.

Dag 4:  Chame (2700m)

Die oggend is ongelukkig niks beter as die vorige wat reen betref nie.  Inteendeel, dit het die HELE dag gereen, net verskil was die hardheid van tyd tot tyd.  Ons was maar moedeloos gewees, maar die nuwe reenbaadjies het hul baie goed van hul taak gekwyt.

Vir Janine wat niks die vorig aand of die oggend geëet het nie was die dag ‘n groot uitdaging.  Sy het darem goed vasgebyt en ook goed dat dit nie te lang dag was nie.

Die aand was dit weer die gebruiklike “warm emmer”.  Ons was die enigste kliente in die gastehuis en ons het die kaggel stoffie vir ons self gehad om al ons nat klere droog te maak.  Ons is weer vroeg in die bed, soos al die aande so ver en ook daarna; tussen 20:00 en 21:00!

Dag 5:  Upper Pisang (3300m)

Ons staan die oggend op in lieflike sonskyn weer!  Die stap tot ons beoogde oorslaap dorp bied nie veelerinstige uitdagings nie.  Ons begin soos gewoontlik vroegerig en stop vir tee by een vd vele tea-houses so rondom 10:00.  Middagete is weer by een of ander tea-house; hoe lekker is dit om nie enige kos saam te dra nie.  Dis darem maar net te maklik.  Ons sakke weeg alby so rondom 10kg en dan is die kamera nog ‘n ekstra 2kg vir Henco.

Ons besluit om die aand in Upper Pisang te slaap eerder as Lower Pisang.  Die besluit is maar hoofsaaklik gedruif deurdat die uitsigte vanaf Upper Pisang heelwat beter is, maar dis ook ‘n bietjie hoër slaapplek vir beter akklimatisering en verder is daar minder trekkers omdat dit ‘n bietjie moeiliker is om daar te kom.

Die roete hanteer die hoogte akklimatisering baie versigtig, so die kans vir hoogtesiekte is redelik beperk (jul sal opmerk dat ons hoogte-wen per dag glad nie veel is nie).  Ons het wel Diamox saam vir ingeval, maar ons hoop nie om dit te gebruik nie.

Ons groep die aand is nou selfs meer – 10 mense!  4 vd Isrealies wat ons langs die pad ontmoet het is nou ook by.  Die aand is die kuierery baie gesellig met allerhande Isreali speletjies en liedjies.

Die hotel, Annapurna is baie gesellig, maar ek dink ons was so bietjie baie vir die klein kombuisie.  Gevolglik eet ons maar almal dieselfde tradisionele Napalese kos – Dal Baht; bestaande uit rys, lensie sop en tipe groente, alles bottomless!  En dis ook net mooi hier wat Henco ook inval met sy maag probleme.

Dag 6:  Manang (3540m)

Ten spyte van ons ongemaklike mae slaap ons baie goed.  Janine is vroeg op om die reuse berge rondom ons af te neem die oggend.  Daar is nie ‘n wolkie in die lug nie en ons hoop op nog ‘n mooi sonskyn dag.

Die dag begin met ‘n kwaai (en baie styl) klim van 370m na Ghyaru, ‘n ou medi-evil dorpie teen die hang van die vallei.  Ons het besluit om die alternatiewe hoë roete te volg vir die uitsigte en minder toeruste.  Defnetief een vd hoogtepunte so ver.

Terug in die hoof vallei kom ons in ‘n pragtige dorpie (Braga) aan met ‘n baie gerieflike hotel aan, maar omdat daar nie ‘n apteek is nie, besluit ons om aan te skuif na Manang, die hoofdorp in die streek.  Dit was immers net 25 min verder.

Met ons aankoms begin die reentjie weer uit te sak, gelukkig het dit nie te lank gevat om ‘n blyplek te kry nie.  Die dorp se apteek is egter toe, bummer.  Gelukkig loop ons ‘n Duitse paartjie raak wat ons vroeër ontmoet het.  Sy het sopas ‘n maand internskap in ‘n hostipaal in Kathmando voltooi en het ekstra dosisse die spesifieke antibiotika gehad wat ons benodig.  Prys die Here!

Dag 7:  Manang (3540m)

Die gits-boeke stel voor dat jy hier ‘n rusdag vat vir akklimatisering.  Ons het tot dusver nog geen hoogtesiekte sintome getoon nie, maar dit het so handig te pas gekom vir ons om te herstel van die maag parasiet.  Dit is egter ook reenerig die heel dag, so ons is maar net te dankbaar om so bietjie in te lê!

Die res van ons geselskap (Steve & Alex, Lyall & Zarha & Gal & Anton) het 12:00 vertrek na Khangsar met die hoop om die volgende dag na Tilicho, die wêreld se hoogste meer te stap.  Dit beteken dat ons hul moontlik nie weer sou sien nie.  Met hul vertrek het ons maar na die Duitse bakkery gegaan vir soetgoed.  Ongelooflik wat hul hier het as jy in ag neem dat alles op die rug gedra moet word.  Die lughawetjie hier is net vir noodgeval.

Die aand kuier ons met die ander 2 Isrealies (Ynon & Natali) en speel hul weergawe van Uno:  “taki”.

Dag 8:  Ledar (4200m)

Vandag is darem nie te ver gewees nie, maar heelwat op.  Ons vertrek maar laterig na ons eers bietjie proviant (padkos) koop vir die volgende paar dae.

Teetyd sien ons weer by een vd vele “tea houses” langs die pad.  Nie veel later, in Yak Kharka, is ons aangenaam verras om die res van ons groep te kry.  Die weer het toe hul planne in die wiele gery en ons stap hiervandaan weer saam verder.  Opmerking:  Hier is eweskielik heelwat meer donkie karavane op die pad.  Ons kan nie rerig uitwerk waar hul vandaan kom of waarheen hul gaan nie.  Dalk bo-oor die pas?

Aangekom in Ledar boek ons in in een vd 2 hotelle.  Nie rerig die aantreklikste plekkie op die staproete nie, maar dis darem warm met gerielike kamers.  Na ‘n bietjie warm-word gaan stap ons twee bietjie die roete van more vooruit (dis goed vir aklimatisering).  Die omgewing is ‘n besonderse ervaring.  Ons sien heelwat yaks en “blue sheep” teen die hoë hange rondom ons.  Ons totale styging die dag is 810m!

Die aand hou ‘n groep Isrealies Shabbat (hul sabbat) en dis een groot remoer.  Gelukkig was hul darem in ‘n ander vertrek, maar ons moes steeds mooi luister om mekaar te hoor.  Ons is nie rerig beindruk met vele vd Isrealies wat ons teekom nie.  Die met wie ons wel pelle gemaak het is rerig ‘n aangename mense, maar dis ongelukkig almal nie.

Dag 9:  High Camp (4925m)

Ons staan op in nog ‘n pragtige oopgetrekte more.  Die sonnetjie skyn heerlik warm en na ‘n vroeër ontbyt as beplan val ons in die pad.  (Sulke goeie weer kon ons darem nie mis nie.)

Ons 1ste mikpunt was Thorung Pedi, “aan die voet vd Thorung (pas)”.  Alles gaan goed, alles net bietjie stadiger as gewoontlik; die hoogte begin tel.  Pedi is ‘n pragtige hotel-dorpie.  Ons drink ‘n heerlike warm teetjie en na ‘n goeie kuier vat ons die styltes uit na High Camp.  Volgens gitsboeke word dit nie rerig aanbeveel nie, maar niemand van ons voel enige hoogte simtomes nie, so ons besluit om die volgende dag se 10 ure met 1.5 ure te verkort deur hoër te slaap.

High Camp is maar net een hotel met ‘n groot gemaklike kuierplek / eetsaal.  Ons besluit om weer ‘n endjie vd volgende dag se stap te doen.  ‘n Heerlike stappie, pragtige wereld!  Ons stap by ons 1ste gletser verby en Henco besluit om in die ysgrot te gaan inloer.  Ons draai by ‘n tea house om wat 5150m bo see spieel is.

Die aand ervaar ons alby ons 1ste hoogte siekte simptome – slapenloosheid.  Gelukkig is dit nie veel meer as 2 ure die volgende dag na bo voor ons begin afgaan nie.

Dag 10:  Thorung La Pass (5416m) & Kagbenie (2807m)

Ons besluit om maar vroegerig te roer aangesien dit 2 tot 4 ure neem tot bo.  Volgens die porters begin daar ook ‘n ysige wind op die pas waai so vanaf 10:00 se kant.  Gevolglik val ons 06:00 in die pad.  Ons groep van 10 vaar egter besonders goed en ons is almal binne ‘n uur bo.  Wat ‘n ervaring!!  Janine doen besonders goed vir ‘n 1ste ervaring op hoë hoogte en ek is baie trots op haar.  Dis egter nie so windstil soos ons gedink het nie, so na ‘n klomp foties en gelukwensings pak ons die afdraendes aan.  Ons het maar besluit om die tea house reg op die pas ‘n skiep te gee.  Dis seker die duurste tee in Nepal en net te koud om met geld en handskoene te sukkel.

Die afgaan gaan baie goed en vinnig.  Binne ‘n half uur het ons ons 1st 500m gedaal!  Die omgewing het dramaties verander soos ons oor die pas gegaan het.  Eweskielik is dit woestynagtig (en nie net op hoë hoogtes nie).  Die berge is duidelik so hoog dat dit die vogtige wolke volledig afsny.

Die plan was oorspronklik om in Muktinath die aand te slaap, maar ons bereik dit al teen middag ete en besluit om verder te gaan.  Op die end kom ons baie moeg en stowwerig, maar soo tevrede, teen 16:00 in Kagbeni aan. Kagbeni is maar ‘n vaal dorpie, toe onder die stof gewaai.  Gelukkig kon ons darem in ‘n gerieflike hotel inboek en uit die wind kom.

Wat ‘n dag!  491m klim en 2609m afgaan!

Dag 11:  Jomsom

Vandag is ons laaste dag.  Met die dat ons gister so ver gestap het (24km & 10.5ure), is daar nie te veel om vandag af te lê Jomsom toe nie.  Ons vlug is van Jomsom na Pokhara.

Die hele dag se roete is egter op ‘n jeep-pad wat poeier gery is, so toe ons ‘n alternatiewe roete aan die ander kant vd rivier sien, besluit ons om dit te vat.  Dit was ‘n briljante plan tot 1km voor Jomsom toe die paadjie doodloop teen ‘n krans wat direk in die rivier val.  Na vele pogings om deur die rivier te waad besluit ons om maar ons spore terug te volg oor die brug wat ons oor die rivier gebring het.  Ai, 2.5 ure raak toe 5 ure.

Gelukkig vir die kort dag.  Toe ons uiteindelik wind verwaaid met ‘n dik laag stof in Jomsom aankom is almal maar net te dankbaar en mik ons vir die 1st beste hotel.  Gal, Anton, Lyall & Zarha besluit om na ete aan te stap na die volgende dorp, tewyl ons en Steve en Alex net daar inboek vir die aand.

Jomsom is maar ‘n windverwaade dorp en alles is oortrek met ‘n laag stof.  Nie die beste plek om tyd te verdryf nie, maar ons kry darem ons 1st warm stort in 11 dae; heerlik!  Ons bevestig ons vlug vir die volgende oggend 10:30 (die laaste vlug vd dag) en die aand drink ons met heimwee ‘n heerlike glasie rooiwyn!

Net ‘n paar feite omtrent die Thorung La pass:

*  4 keer hoër as Ben Nevice

*  938m hoër as Matterhorn

*  600m hoër as Mont Blanc

Dit is vd maklikste plekke in die wêreld vir ‘n gewone ou / toerus om so hoog te gaan en die tyd vd jaar is daar geen sneeu op die pas nie.

Older entries »